Muller Potgieter-Gedenkwedloop

Meer as 50 jaar ‘n tradisie “Die son het vir hom ondergegaan toe dit nog dag was”

Die Muller Potgieter Gedenkwedloop is die eerste keer in 1969 aangebied en  sederdien ononderbroke 54 maal agtereenvolgens.  Dit het nie net Pretoria (Noord Transvaal en later Atletiek Gauteng Noord) se langste ononderbroke aangebiede wedloop geword nie, maar ook ‘n belangrike mylpaal op die Suid Afrikaanse padwedloop kalender.

Hierdie oorsig bied ‘n kort beskrywing van die man wat onthou word met hierdie gedenkwedloop, maar na meer as 5 jaar het die wedloop natuurlik ook sy eie geskiedenis.

Muller Potgieter- die man

Josef Muller Potgieter is in Reitz in die Vrystaat gebore in 1945.  Nadat die familie na die ou Transvaal verhuis het, het hy sy hoërskool loopbaan by Middelburg Hoërskool voltooi waar die legendariese George Claassen (Comrades wenner van 1961 en vader van Springbok Wynand Claassen) die skoolhoof, en ook Muller se afrigter was.

Na voltooiing van sy hoerskoolloopbaan in 1962, het Muller onderwys gaan studeer by die ou Normaal Kollege Pretoria (NKP) waar hy sy prestasies in veldwedlope en die atletiekbaan voortgesit het.

Nadat Muller klaar studeer het, begin hy sy loopbaan in 1966 as onderwyser in Ekonomiese Wetenskappe by Middelburg Hoër, sy Alma Mater.

Hy was ook die skool se landloop- en atletiekafrigter.  Op hierdie wyse het hy ook teruggeploeg in die sport waarvoor hy so lief was. George Claassen, steeds skoolhoof, was steeds Muller se mentor en afrigter.

Hoewel Muller homself op skool onderskei het op die atletiekbaan, was dit veral op die gebied van landloop en marathons waar hy hom later onderskei het.
Tydens Muller se eerste Comrades Marathon in 1967 op twee-en-twintig jarige ouderdom behaal hy die sewende plek.

Die volgende jaar hardloop hy die pad warm met onder andere sy vierde plek in die Comrades en eerste plekke met rekordtye in die 53 km Matopos Ultra en die Golden West marathons.

Hy het die 1969 seisoen sterk begin met sy wen in die Noord-Transvaal marathon kampioenskappe en marathon geesdriftiges het hierdie jong atleet se vordering met groot belangstelling dopgehou.

Van die hoogtepunte in Muller se atletiek loopbaan was die vierde plek in die Comrades wat hy in 1968 behaal het, die eerste plek met ‘n rekordtyd in die moordende Matopos Ultra- marathon in die destydse Rhodesie in dieselfde jaar en die eerste plek in die Noord-Transvaalse marathon kampioenskappe weke voor die tragiese motorongeluk.

Die gebeurtenis was kort voor die Comrades Marathon van 1969 waarin hy ‘n ernstige mededinger vir die voorste plekke sou wees.

Op 22 Maart 1969 was Muller en van die hoërskoolatlete wat hy afgerig het op pad terug vanaf Witrivier waar hulle aan ‘n Inter-Bond byeenkoms deelgeneem het.  

In ‘n tragiese fratsongeluk op ‘n kruising van die N4 met ‘n sekondere pad naby Middelburg, het Muller se voertuig met die bakkie van sy vader gebots en is Muller op slag gedood en sy moeder wie in die bakkie was, ses weke later.
Sy heengaan op vier-en-twintig jarige ouderdom was gesien as ‘n groot slag vir Suid-Afrikaanse atletiek in die algemeen en vir Middelburg Hoërskool in besonder.

Sy toewyding tot afrigting was weerspieël deur die feit dat vier van die ses seuns wat die destydse Oos-Transvaal in 1969 by die SA Landloop Kampioenskappe verteenwoordig het, leerlinge van sy skool was.

Muller het sy sport in die era van suiwer amateurskap beoefen waar toewyding die deurslag vir sukses was en waar daar nog min sprake was van hoë tegnologie skoene en wetenskaplike voeding.  ‘n Stel Bata tekkies moes dikwels maar die ding doen!

Ten spyte van sy voltydse loopbaan het hy twee keer per dag geoefen. Sy wedloopstrategie was konserwatief deurdat hy eerder stadig begin het maar sterk geeindig het.

Die Noord-Transvaalse hardlopersgemeenskap het besluit om hierdie gewilde maar nederige jong onderwyser van Middelburg te vereer met die aanbied van ‘n jaarlikse gedenkwedloop. Met hierdie wedloop is ‘n ryke tradisie gevestig.

Die Muller Potgieter Gedenkwedloop- ‘n Tradisie

Die eerste Muller Potgieter Gedenkwedloop in 1969 was gehou vanaf die Hoërskool FH Odendaal op die ou Pienaarsrivierdam pad.  In daardie tyd is die wedloop aangebied deur die Pretoria Atletiek Klub (PAK). Dit was ‘n 15 myler wat in vandag se terminologie nagenoeg 24 km was.

Gedurende Oktober 1973 is die Pretoria Marathon Klub gestig en het die PAK en PMK ooreengekom dat die padwedloop onder die vlerke van die Marathon Klub moet voortgaan. George Claassen het ‘n belangrike rol gespeel in hierdie ooreenkoms.

Die wedloop is ook hiermee verskuif na die Kameeldriftskool, wes van Pretoria.  Tussen 1974 en 1982 het die afstand tussen 23 en 26 km gewissel en vanaf 1983 was dit 21.1 km. In 1999 het dit ‘n 15km wedloop geword en in 2010 ‘n onortodokse 15,3 km.

Die 1974-76 wedlope het plaasgevind by die Kameeldriftskool.  In daardie jare was “SA Runner” die toonaangewende bron van wedloop inligting.  In die 1977 weergawe was daar ‘n fout toe die wedloop se wegspringtyd verkeerdelik as 07:00 (soos die vorige jare was) aangegee is, en nie as 14:30, ‘n middag wedloop nie.

Een van die organiseerders Freddie Klein is vroeg die oggend na die skool om almal wat verkeerdelik vroeg opgedaag het huis toe te stuur, en te vra dat hulle weer die middag moes terugkom.  

Met sy aankoms by die skool het een van die skoolkomitee-lede daar opgedaag en aan hulle gese dat as daar anderkleuriges aan die wedloop sou deelneem die skool se fasiliteite nie langer beskikbaar sou wees nie.  En daar sou beslis wees!
Sedert 1975 het anderkleuriges reeds aan die wedloop deelgeneem.  Hy het in sy bussie gespring met sy drie kinders en na sy huis in Pretoria Tuine so 20km verder gejaag, om die ander PMK lede te gaan bel.  Oppad na sy huis het die bussie sonder petrol gaan staan!  Met drie klein kindertjies, het hy langs die Britspad duim gegooi.  Genadiglik het ‘n barmhartige Samaritaan stil gehou en hulle is opgelaai.

By sy huis het hy naarstiglik aan die werk gespring.  In sy poging om die wedloop te red het hy selfs die minister van sport, Dr. Piet Koornhof gebel!  Maar sonder sukses. “Piet Promises” het vroeër op ‘n byeenkoms van “Sportmanne vir Christus” belowe hy kan enige tyd en met enige sport probleem help.  As blyk van eerlikheid het hy selfs sy huis telefoonnommer gegee!  Dit was ‘n leë belofte.  Piet se seun was simpatiek maar die privaat sekretaris se antwoord was “wat se vermeteldheid het jy om die minister persoonlik te bel!”. Klein het aan die sekretaris gesê hy moet vir sy baas sê om nie sulke uitnodigings te maak as hy nie daarby kan staan nie.

Toe was dit, sonder die minister, terug na “Plan-B”.

Teen 09:00 die oggend besluit George Claasen, Johan Schlebush en Freddie Klein om die Swartspruit Hotel daar naby te vra of hulle kon help.  Klein is afgevaardig vir die taak.  Die eienaar Len van Loggerenberg was hulle simpatiek gesind en enkele ure voor die wedloop sou begin is die wedloop opnuut beplan en uitgelê.  Klein se bussie het nou petrol ingehad en hy het sommer met die afstandmeter die nuwe kilometer merke uitgelê.

Met enkele sekondes oor voor die wedloop begin het, het hy voor die kroeg gestop – dit is al waar daar nog parkering was.

Een van die deelnemers Casper Steyn, het salig onbewus van die drama, droogweg opgemerk “fokkit, hy reel die wedloop en hy kom nou eers hier aan!” Die storie het later geloop van “’n geel Toyota Hi-Ace bussie voor die kroeg van die Swartspruit Hotel, met ligte aan en ‘n oop deur”. Die drywer was nêrens te vinde nie.

Die wedloop was ‘n sukses en die storie van die 1977 Muller Potgieter Gedenkwedloop was die eerste artikel wat ooit in Afrikaans gepubliseer is in die “SA Runner”.  Die outeur was Johan Schlebush. Die artikel was getiteld “Hulde aan die manne met die spring oë”.

Die 1977 Muller Potgieter is waarskynlik die enigste wedloop in die Suid Afrikaanse padhardloop geskiedenis wat by ‘n hotel begin en klaar gemaak het.  En in die 70’s was ‘n hotel nog ‘n hotel!  Nie met ‘n dameskroeg nie.  Een met ‘n toonbank van soliede hout waar slegs hardebaard manne toegelaat is.  

Maar so was die hardlopers darem ook.  Die legende vertel dat die laaste atleet wat deelgeneem het, uit die kroeg gegooi is toe die hotel in 1996 gesluit het.

Die wedloop is vanaf 1978 by die nuwe Verkeerskollege by Kameeldrift aangebied. Die wedloop sou vir die volgende aantal jare daar plaasvind totdat die nuwe Carousel Casino in 1988 die wedloop se eerste borg sou word.  Die 1988 wedloop sou baie kritiek kry, deurdat die nuwe borg die Muller Potgieter tema onderspeel het.  

Die uiteinde van die saak was dat die wedloop van klub verskuif het en na die kampus van die Techikon Pretoria in Pretoria Wes geskuif het.  Die kampus was in ‘n stil deel van Pretoria en die nuwe dele van Danville en Philp Nel Park uitgelê maar onbeboud.  Dit was ideale padhardlooptoestande met stilstrate naby die middestad.

In 1999 het die afstand na 15 km verander en in 2010 na 15.3 km .  Van die vroeëre wenners was legendes soos Willie Olivier, Frans le Grange en Andrew Greyling.  

Volgens die rekords wat ons kon opspoor was die eerste dameswedloop in 1975 aangebied. Van die vroeë dameswenners was die bekende Ralie Smit.
Alhoewel die eerste anderkleuriges eers in 1976 amptelik aan die wedloop kon deelneem, het Petrus Kekana die eerste swart atleet geword wat die wedloop gewen het in 1983.

Die Wedloop is aanvanklik aangebied deur PAK wat ook Muller se klub was.  
Kort na die stigting van die Pretoria Marathonklub in 1973, het hierdie klub die aanbieding van die Muller Potgieter oorgeneem.

Dit is later deur die Pretoria Technicon Marathonklub aangebied en word sedert 2006 deur die Voortrekkermonumentatletiekklub aangebied en georganiseer.

Die wedloop is in die vroeë tyd van sy ontstaan nie met behulp van ‘n borgskap aangebied nie, Carousel het dit in 1988 verander.  Nadat die wedloop van daaraf verskuif het, is daar eers weer in 1997 ‘n borgskap aangebied.

Gedurende 1997 het Quagga Sentrum in Pretoria Wes ‘n borgskap aangebied. Die Technikon Pretoria Marathonklub het die aanbod aanvaar en sodoende het die wedloop se naam verander na die Quagga Sentrum Muller Potgieter Gedenkwedloop.  Die eerste wedloop by Quagga Sentrum is aangebied as ‘n 10/21 km in Junie 1998.  In die daaropvolgende jaar het die wedloop verander na ‘n 15 km wedloop.  Aan die einde van 2006 was die Technikon Pretoria onder ‘n nuwe naam en die nuwe bestuur van die Tshwane Universiteit vir Tegnologie was nie positief gesind teenoor die ou sportstrukture van die Technikon nie. Alhoewel die Sport Buro uit hulle pad gegaan het om die Marathonklub te akkommodeer, het die Marathonklub uiteindelik ontbind.

Van die lede het in 2006 ‘n nuwe klub met sy basis as die Voortrekker Monument Terrein gestig (Voortrekker Monument Hardloop en Stap Klub) en met die TUT Sport Buro ooreengekom om die Ou Voetpad Berg 10 Myler en die Muller Potgieter Gedenkwedloop oor te neem.  Quagga Sentrum het hulle borgskap in daardie stadium voortgesit.

Die wedloop het oor sy hele bestaan feitlik net in Junie plaasgevind.  Dit was ‘n tipiese winterswedloop met ‘n kleinerige deelnemerstal – gewoonlik so tussen 600-750 deelnemers. Die 15km wedloop 10 dae voor Comrades was ook ‘n ideale afsluitingswedloop vir die Comrades atlete.  Die skuif van die Comrades Marathon, na einde Mei, het ongelukkig ‘n daling in die inskrywingsgetalle gehad.  Met die druk van borge, en verkeer (die wedloop kruis Vom Hagenstraat) is uitendelik besluit om die wedloop na Desember te skuif.
Dit sou atlete vroeer van die pad af kry (die wedloop sou nie meer 07:00 begin nie, maar 06:00), en hopelik sou die somersweer meer atlete uit die bed kry! Die eerste “somers” wedloop het in 2010 plaas gevind- maar natuurlik nie sonder sy probleme nie.  Op die Maandag voor die wedloop is die organiseerders ingelig dat die wedloop “’n veiligheidsrisiko” vir die Universiteit is en dat die wedloop nie langer oor die TUT kampus mag plaasvind nie.

Met dringende gesprekvoering het Inspekteur Cornel van der Walt van die Tshwane Metropolisie, toestemming gegee dat die wedlooproete verander kon word.  Die wedloop se roete is oplaas verander en sodoende is daar ‘n ekstra 300 meter by die wedloop gevoeg.  Die wedloop se moeilikheidsgraad het skielik so ‘n graad of wat geklim!  

Die 2010 wedloop is amptelik deur Pottie (Hendrik) Potgieter, die broer van wyle Muller Potgieter afgesit. Die gewysigde roete was ‘n sukses.  Alhoewel daar natuurlik ‘n paar klagtes was oor die ekstra paar opdraendes!

Die Voortrekker Monument Hardloop en Stap Klub bied sedert 2006 die wedloop aan.  Leon Bezuidenhout, die President van die Klub vanaf sy begin tot en met sy afsterwe in 2020 was passievol oor die Muller Potgieter gedenkwedloop vanweë sy ryke geskiedenis en tradisie en het tesame met die klub se bestuur die wedloop op ‘n effektiewe wyse aangebied, somtyds onder moeilike omstandighede.

Die 2017 tot 2019 wedlope is by die Militêre Sportgronde in Thaba Tshwane aangebied met afstande van 21,1/10 km.

Die 50ste wedloop in 2018 was ‘n besondere geleentheid met die prysuitdeling wat deur Oud-Springbok rugbykaptein Wynand Claassen behartig is, een van Muller Potgieter se destydse atlete op Middelburg Hoërskool wat provinsiale kleure onder sy afrigtingskap verwerf het.

As gevolg van Covid 19 inperkings is die 2020 en 2021 wedlope virtueel aangebied.

Sedert 2022 word die wedloop op die Voortrekker Monument Organisasie se gronde aangebied.  Dit is ‘n gewilde terrein met goeie veiligheid vir atlete asook voldoende en veilige parkering.

In die beginjare van die wedloop was daar nie medaljes uitgegee nie.  Lap sakwapens was die gebruik van die tyd.  Met een van die eerste sakwapens het die bekende beeldhouer Eben Germishuys ‘n son wat sak as ontwerp gebruik.
Hy het Amos 8:9 gebruik. “En in die dag, spreek die Here Here, laat ek die son op die middag ondergaan en vir die aarde die lig duister word terwyl dit nog dag is”.

Vir Muller Potgieter het die son voorwaar ondergegaan terwyl dit nog dag was.
Mag hierdie wedloop bydra tot sy herinnering.

Iemand het eens gese “Hoe lank ons lewe is nie wat saak maak nie, maar wel hoe”.